Politieke filosofie

Plato (links) en Aristoteles (regs) in 'n detail van Die Skool van Athene, 'n fresco deur Raphael. Plato se Republiek en Aristoteles se Politiek het hierdie Griekse filosowe gevestig as twee van die mees invloedryke politieke filosowe.

Politieke filosofie is die studie van onderwerpe soos politiek, vryheid, geregtigheid, eiendom, regte, wetgewing en die toepassing van 'n regskode deur gesag: wat die voorgaande presies sou wees, hoekom of selfs óf dit nodig is, en wat, indien enigiets, 'n legitieme regering sou uitmaak, watter regte en vryhede dit moet beskerm, benewens die redes daarvoor, watter vorm dit moet aanneem en waarom, die onderskeid tussen die verskillende politieke magte (Trias politica), wat die wet is, en watter pligte die burgers aan 'n wetlike regering verskuldig is, indien enige, en onder watter omstandighede dit wettig omvêrgewerp mag word, indien ooit. Ander sake waaroor die politieke filosowe nadink is onder meer die konstruksies van mag, leierskap en deelname aan gesag sowel as die analise en agtergrond van groot politieke stelsels soos demokrasie, kommunisme en kapitalisme.

Die gebruik van die term politieke filosofie kan ook verwys na 'n bepaalde filosofiese opvatting oor die wese of doel van die gemeenskap of staat. Dit kan soms gebruik word as 'n sinoniem vir 'politieke siening'. Die onderskeid wat soms tussen sosiale filosofie en politieke filosofie gemaak word, is meer 'n kwessie van die toevallige studierigtings op universiteite as inhoudsverskille; die grens tussen beide is vaag. Aan baie universiteite en vir baie filosowe bestaan die onderskeid ook nie. Ook oorvleuel dit op sekere punte met die regsfilosofie, waar die regsfilosofie ditself op wetgewing as sodanig rig (byvoorbeeld wat wette regverdig maak), terwyl politieke filosofie eerder die rol van die reg in die breër politiek plaas. Verder hang die politieke filosofie van 'n filosoof ook dikwels saam met sy opvattings oor etiek en wysgerige antropologie.

In die omgangstaal verwys die term "politieke filosofie" dikwels na 'n algemene siening, of spesifieke etiek, politieke geloof of houding rakende politiek, wat nie noodwendig tot die tegniese uitvoering daarvan of die filosofie behoort nie. In kort is politieke filosofie die aktiwiteit, soos met alle filosofie, waardeur die konseptuele strukture onderliggend aan konsepte soos die voorgenoemdes, ontleed word in terme van hulle geskiedenis, doelwitte, ewolusie en die derglike.[1]

  1. Hampton, Jean (1997). Political philosophy. p. xiii. Charles Blattberg, wat politiek definieer as "repliek op konflik deur dialoog," suggereer dat politieke filosofië filosofiese verslae oplewer van daardie dialoog. Kyk sy "Political Philosophies and Political Ideologies". {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp) in Patriotic Elaborations: Essays in Practical Philosophy, Montreal and Kingston: McGill-Queen's University Press, 2009.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search